...I am careful to confuse excellence with perfection.. Excellence I can reach for... Perfection is God's business...

Woensdag 14 Augustus 2024

Plundertyd - Niks behalwe my God..

 Ek het n nuwe laptop moes koop en so deur die uitsort etc vind ek hierdie stukkie wat ek geskryf het tydens die eerste lootings wat hier in KZN was.....


……Party mense is baie keer so arm, want al wat hul het is geld…

 

O wee, waarheen is die wêreld oppad? Nêrens…erens is n groot gemors. Ons is deur n week of is dit nou langer? Ek weet nie want sien om afgetree te wees hou jy nie meer die kalender dop soos die dae wat jy nog teen tyd gestry en baklei het nie. Vroeg opstaan stort , klere kies vir vandag, hare blaas, biki make-up en o gaats sommer vinnig n beskuit en koffie. En wroem-wroem daar gaat jy! By die kantoor aangekom, rustig asof jy al 3 ure wakker is en in rustigheid jou klere aangetrek het wat jy gisteraand al besluit het wat om vandag te dra?? Jou ontbyt was ook meer uitgebrei as net n beskuit en jou grimering, o ja nou is dit grimering…is netjies aangesit. Jy het ALBEI oorbelle aan en jou parfuum walms is daar, maar nogal gedemp want jy het dit al douvoordag aangespuit. NEE..dit was n gejaag met n droom ..Eendag ,eendag gaan jy kan later slaap en rustig jou ontbyt eet en stort en en en…Dit het aangebreek. En nee, jy is vroeer op as wat jy gedink het jy gaan..want jou lyf kan nie so lank lê nie…

 

Terug by die week wat verby is en voel asof dit nog aangaan. Hier was stroping of beter word “looting” en plunder en oproer gewees. Ek self weet nie of elke liewe ou wat daaraan deelgeneem het dit vir die rede gedoen het waaroor dit eintlik moes gaan nie, maar hul het maar saam gedoen . Winkels is geruineer, malls afgebrand, trokke en busse gebrand, voorrade gesteel en so kan hierdie lys dinge aangaan tot my ink op is. En hier sit ons rustige mense sonder die nodige, of sal ek die  woord van die Covid jaar gebruik, sonder essentials.

 

Ons , ek en my man besluit miskien gaan ons net ry en sien of ons dalk n plek kry wat wel nog voorrade het. As afgetredenes is dit nie meer die maandelikse grootkoop van kruideniers nie, maar eerder n weeklikse uitstappie. Dis eers n lekker ontbyt erens dan die koop. So ja ons was nie rerig voorbereid op hierdie tyd van NIKS nie. Ons woon maar in n klein dorpie of eerder soos die, veral die uitlanders sê,  n Village. Die paaie is stil..amper asof daar ook min mense is. Jinne n gedagte wat wel by my opgekom het was..het die Wegraping gebeur en ons het agtergebly? Nee almal was maar net verslae oor dit wat afgespeel het in SA en veral hier in KZN die provinsie waar ons woon. Die strate raak meer besig… Oral is NIKS..en daar waar daar iets is, is die winkels gesluit. Ons ry van winkel na winkel met hoop op die volgende een om oop te wees. Ons vind n klein winkeltjie wat wel oop is, maar geen essentials, even nie eers die non essentials meer nie. n Ou omie kom uit met net n pakkie koekies wat daar was. Nou is dit ook klaar. Ben kon ook darem 5 rolle toilet papier kry , die aaklige soort, maar dit was darem iets om te koop. Oppad huistoe , my gemoed is toe nou al vol trane binne..maar ek het my brawe gesiggie op vanoggend. Ons sien die Slaghuis is oop en Ben sê miskien moet ons gaan kyk vir n pakkie of 3 maalvleis. Ons het oor as genoeg ander vleisie nog, dis net die mins wat gedaan is. Hier binne ook n ry..almal maar stil en die gesiggies lyk almal braaf. Of so dink ek want die maskers maak mos alles toe deesdae. Ek sien op die rak lê 3 blokke margarine en 3 lemoensappies. Besluit koop dit maar. Ons is amper voor in die ry toe koop die dame voor ons al die vleis wat nog beskikbaar is. Hoe gaan sy alles kan dra wonder ekke. Maar dit was wat die dam walle in my gemoed laat bars en breek. Ek vra vir Ben die bakkie se sleutel en gaan sit daar en huil en huil. Here, vra bid ek..wat het gebeur? Ek stuur voicemails na my sussies, maar ek huil so …dit was moeilik om so te praat!. Hier kom Ben en ek lui af. Oppad huistoe was grafstil in die bakkie. Ons albei verbaas en vol vrae. By die huis neem ek inventaris van hoe en wat ons kos situasie lyk. Ek besef hier gaan kreatief kos gemaak moet word. Even my meel vir brood bak is laag. Groente en vrugte is….net tamaties wat al oorryp is. Middagete is salticrax met marmite en klein ,bitter klein repie kaas op. Ook net 4 koekies elk. En n glas water. Koffie is ook op rantsoen want ons het net 6 Liter melk. Ons bel ons kinders wat so 30 km van ons af bly en hoor of hul ok is. Ja se hul, maar skrikkerig oor wat aangaan. Jinne die whatsapps was so baie oor alles wat aan gebeur is, dat my foon amper verstik het. Die een wil slegter lyk as die ander. Dit brand ,dit ontplof, dit is sleg ! Nee jinne alles is negatief.  Die kinders woon in n estate en daar is aksieplanne en noodplanne in werking. Ons seun doen wagbeurte van 3 ure aan en 3 ure af. Dogter en kiddies is op gereedheidslag om na die nood bymekaarkom plek te gaan. Die rugsakkies en kombersies staan by die voordeur. Intussen is hulle geprep dat sou dit gebeur dat hul nie betyds kan wegkom nie, hul na die badkamer moet gaan en die deur sluit. Hul hartjies bewe. Ons dogter is dadelik bekommerd oor die jongste se medikasie wat nog net vir dag of twee genoeg is. Sy ly aan n nier sindroom en moet meds neem. Maar God maak hul rustig.  By ons is dit ook n warboel emosies. Nou moet ons even ons brandstof spaar want die vulstasies is gesluit. Even kontant is nie volop.

Ons bid. Ons kommunikeer met ons bure en vriende. Ons bak brood en deel uit. Ons ruil 6 lemoene vir 6 aartappels. Die Pastoor se hy bring toiletpapier. (hoe het hy geweet?) Dankie Jesus. Ben moes dringend n silinder suustof kry, want sou die elektrisiteit af aan het hy nie backup nie. Hy het Idiopathic Pulmonary Fibrosis. Die gasman sê hy sal moreoggend vir n uur oop wees en hoop om teen dan suurstof in te gekry het. Nou ,dis nou more en Ben is al vroeg vroeg daar om te kry. Prys die Here hy het n silinder gekry. Oppad terug huistoe besluit hy om na n winkeltjie langs die Spares plek te ry. Oppad sien hy n ander winkel wat oop is, die parkade is stil en geen rye by die winkel nie. Ons was nog nooit by daardie winkel nie. Stap in en sien die rakke ook maar leeg, maar daar lê n sak rys , n pak koekmeel asook 3 pakkies mieliemeel. Hy koop dit.  Wow wat het nou net gebeur.? Goddelike voorsiening dis wat gebeur het. Kom by die huis en wys my. Ons huil en sê dankie vir hierdie voorsiening. Vader se goedheid ken geen perke nie en is altyd op tyd. Emosioneel gaan ons op n rollercoaster. Sovele vriende en familie wat wil hoor of ons ok is. Kan ons vir julle voorrade invlieg? Is daar n klein vliegveld? Dis net oorweldigend. Om te sien hoeveel mense se harte sag is en net genade en liefde wil aangee. Ek is konstant in trane. Gebede so baie !. Dankie. Ons kry  pakkies vol kos en bederfies met Koerier. En die voorsiening stop nie. Dis God. Ons ringtones op ons fone klink..I’ll raise a Hallelujah… …Almal staan saam. Daar is nie kleurgrens nie. Even die taxi manne kom help ons mense wagstaan..Wonderlik hoe ons wel kan saamwerk en mekaar se nood kan help dra.

 

Dit is n humbling experience. Ons was so gewoond om te gee , veral in ons tyd wat ons in Mozambiek gewoon en werk het, en nou moet ons leer om te ontvang. Here hoe doen mens dit? ..Hy antwoord..jy ontvang in dankbaarheid…EK was nogals altyd iemand wat maklik my hart gedeel het…maar oi oi..hierdie is moeilik.

 

 Hierdie stelling maak nou 500 % vir ons sin…..Ons is arm want al wat ons het is geld.!

 

Dankie Heer dat U nie n essentiele is nie en ook nie geplunder kan word nie en ook nie gesteel kan word nie, want U was al gebreek en doodgemaak, MAAR U het OPGESTAAN en U is ons opgestane God, Koning en Heer. U het oorwin, sodat ons kan leef. Oorvloedig in U voorsiening en liefde. Onvoorwaardelik gekoester in Genade.